Kat, Kleinboet en die paal

Dit is al laatoggend, en Kat sien hoe Kleinboet ‘n entjie van die plaashuis af swoeg, sweet en swets. Kat stap nader. “Wel, wel,” sê Kat, “die man wie se hande vir alles reg staan, se hande staan ‘n slag verkeerd?”

“Nie nou nie, Kat,” brom Kleinboet. “Jy kan iewers anders gaan staan en katterig wees.”

Kat ignoreer hom en loer oor sy skouer. “Vir wat sukkel jy so met die grensdraad se paal?”

Kleinboet skop na die paal. “Ek weet nie! Ek het als probeer … Niks werk nie!”

Kat vryf oor haar ken. “En hoekom maak dit jou so kwaad? Dis net ‘n paal.”

Kleinboet sug. “Want ek is die staatmaker op die plaas. As ek nie eers ‘n simpel paal in die grond kan kry nie, wat is ek dan?” Hy tuur die verte in, sy oë trek op skrefies. “Wíé is ek dan?”

Kat kyk in dieselfde rigting as Kleinboet, maar sien net ‘n enkele wolk wat in die lug hang.

Kat druk haar sigaartjie dood. “Het ek jou al vertel van my niggie met die houtbeen? Sy’t swaar getrek toe sy die ding kry, maar toe besef sy een dag: Dis nie ‘n houtbeen nie. Dis nou deel van haar. Háár been.”

“Oukei … Maar wat beteken dit vir my?”

Kat sug. “Hoe langer jy dink jy is beter as die ding, hoe meer jy vaskyk in jou sogenaamde reputasie, hoe langer gaan dit vat voor julle mekaar verstaan.”

Kleinboet oorweeg dit. Dan maak hy sy oë toe, leun teen die paal, plaas sy elmboog daarop en asem uit. Wanneer hy weer sy oë oopmaak, is die paal stewig in die grond.

“Blikskottel!” roep hy uit. “Kat, hoe het dit-”

Hy stop, kyk rond … maar Kat is skielik nêrens te sien nie.

 

 


← Older Post Newer Post →